Adel

Die Britse Hoërhuis (die ou huis, wat in 1834 afgebrand het), soos geteken deur Augustus Pugin en Thomas Rowlandson vir Rudolph Ackermann se Microcosm of London (1808-1811).

Die adel is ’n sosiale klas, gewoonlik net onder die koningshuis, wat in sommige gemeenskappe aangetref word wat ’n amptelike aristokrasie het. Hulle geniet voordele en ’n hoër sosiale status as die meeste ander klasse in ’n gemeenskap. Die voordele kan aansienlike gunste in vergelyking met nieadellikes behels of kan blote erevoordele wees, soos voorrang, en kan van plek tot plek en tyd tot tyd wissel. Lidmaatskap van die adel, insluitende regte en verantwoordelikhede, is gewoonlik oorerflik.

Lidmaatskap van die adel is histories deur die monarg of regering toegeken. Mense kan egter ook deel van die adel word danksy aansienlike mag, geld, militêre dapperheid of koninklike begunstiging.[1]

Daar is gewoonlik ’n verskeidenheid range in die adelstand. Wetlike erkenning van adelikheid is algemener in monargieë, maar die adel het ook bestaan in lande soos die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande (1581-1795), die Republiek Genua (1005-1815), die Republiek Venesië (697-1797) en die Ou Switerse Konfederasie (1300-1798). Dit is ook steeds deel van die wettige sosiale struktuur van sommige nieoorerflike regerings, soos San Marino en die Vatikaanstad in Europa.

In die klassieke oudheid was die nobiles (adellikes) van die Romeinse Republiek die families wat afgestam het van ’n konsul. Mense wat tot die oorerflike patrisiërfamilies behoort het, was adellik, maar plebejers wie se voorouers konsuls was, is ook as nobiles beskou. In die Romeinse Ryk was die adel die afstammelinge van dié republikeinse aristokrasie. Die moderne Europese adel het nie bande met die Romeinse adel nie, want hulle oorsprong lê in die feodale/leenheer-stelsel wat in die Middeleeue in Europa ontstaan het.

Oorerflike titels en aanspreekvorme wat by name gevoeg word (soos "prins", "lord" of "lady"), sowel as ander betitelings (soos "u hoogheid"), onderskei gewoonlik adellikes en nieadellikes in gesprekke en geskrewe kommunikasie. In baie nasies het die meeste van die adel hulle titels verloor en sommige oorgeërfe titels dui nie op adellikheid nie. Sommige lande het nieoorerflike adel, soos die Brasiliese Ryk of life peers in die Verenigde Koninkryk.

  1. "Move Over, Kate Middleton: These Commoners All Married Royals, Too". Vogue (in Engels). Besoek op 24 Oktober 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search